
Mnre. Peter Staude, Murray Hector Munro, Michael Edward Deighton, Rory Edward Wilkinson, Kamasagrie Singh en me. Samantha Shukla word beskuldig van bedrog ter waarde van R3,5 miljard, asook die oortreding van die Wet op Finansiële Markte (Wet 19 van 2012), die Maatskappywet (Wet 61 van 1973) en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Wet 121 van 1998).
Staude, ’n voormalige direkteur, was van 1 Mei 2002 tot 31 Oktober 2018 die maatskappy se uitvoerende hoof. Munro was vanaf 1 Oktober 2003 tot 6 Augustus 2018 Tongaat Hulett se hoof- finansiële beampte. Hy het ook in dié tydperk in Tongaat Hulett se direksie gedien.
Deighton was ’n uitvoerende direkteur by die maatskappy en Wilkinson ’n direkteur, wat ook die hoof van die portefeulje op strategie was. Vanaf Augustus 2015 tot November 2017 was hy die handelshoof. Singh was bestuurder van regsake, terwyl Shukla die maatskappy se finansiële bestuurder was.
Mnr. Gavin Dykes Kruger, ’n voormalige ouditeur by Deloitte & Touche, word saam met die beskuldiges van bogenoemde, asook die oortreding van die Ouditeurswet (Wet 26 van 2005) aangekla.
Die nasionale vervolgingsgesag voer aan dat die beskuldigdes van Maart 2015 tot September 2018 gesamentlik opgetree het om die waarde en datum van wins van die verkope van grond verkeerdelik aan THL, sy werknemers, krediteure en aandeelhouers voor te stel. Aangesien die datums van dié verkoopsooreenkomste in finansiële verslae teruggedateer is, is verkeerde winste verklaar en het die bestuurders reusebonusse ontvang.
Die klagstaat is vandag aan die beskuldigings tydens hul verskyning in Durban se spesialishandelshof oorhandig. Die saak is tot 15 September uitgestel wanneer die beskuldigdes hul eerste verskyning in die Durbanse hooggeregshof sal maak.