
Die huidige direksie van Tongaat Hulett eis gesamentlik R450 miljoen van voormalige senior bestuurders in ’n siviele saak wat by die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg aanhangig gemaak is. Dit volg nadat ’n forensiese ondersoek deur PricewaterhouseCoopers in 2019 bevind het hulle het na bewering ongewenste rekeningkundige praktyke toegepas of daaraan meegedoen. Gevolglik is Tongaat Hulett se winste vir ’n paar jaar te hoog aangegee.
In ’n verklaring sê die landbou-, landbouverwerkings- en eiendomsontwikkelingsmaatskappy benewens die verlies aan waarde vir Tongaat Hulett se aandeelhouers en ander belanghebbendes het hierdie beweerde praktyke ook tot die ongeregverdigde verryking van die betrokkenes gelei en dit was ’n versuim van hul fidusiêre pligte.
Die siviele eis is ingestel teen mnre. Peter Staude, voormalige uitvoerende hoof, Murray Munro, voormalige hoof- finansiële amptenaar, en Sean Slabbert, voormalige uitvoerende hoof van finansies en ook voormalige direkteur van Tongaat Hulett Suiker Suid-Afrika.
’n Aparte siviele eis is deur die Tongaat Hulett-ontwikkelingsfiliaal teen mnr. Michael Deighton, voormalige besturende direkteur, ingestel.
“Tongaat Hulett ook ’n bevel versoek om hulle as misdadige direkteure te verklaar. Daar word verwag dat volledige verhore vir vroeg 2023 geskeduleer sal word. Strafregtelike sake teen voormalige uitvoerende amptenare en senior bestuurders is in Suid-Afrika en Zimbabwe gemaak en ons gaan voort om met die betrokke owerhede saam te werk,” lui die verklaring.
In dieselfde verklaring sê mnr. Johann van Rooyen, maatskappysekretaris van Tongaat Hulett, die regsgedinge teen die voormalige bestuurders is aansienlik vertraag weens die “indiening van ’n aantal interlokutêre besware oor hoogs tegniese argumente deur die verweerders”.
“Tongaat Hulett weerhou Staude en Deighton se pensioene tot die afhandeling van die litigasie teen hulle. Munro en Slabbert het ongelukkig reeds die besigheid verlaat en hul pensioene onttrek voordat die siviele eise ingestel is,” sê Van Rooyen.
Luidens vorige verklarings deur Tongaat Hulett het die betrokke voormalige bestuurders na bewering die maatskappy se ekwiteit met tot R11,9 miljard te hoog aangegee. Sodoende het hulle na bewering baat gevind by bonusse wat aan hulle betaal is vir die sterk, maar vals, finansiële prestasie van Tongaat Hulett onder hul bestuur.