
Tongaat Hulett, die suikermaatskappy met bedrywighede in Botswana, Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe, moet ’n nuwe voorsitter kry nadat mnr. Louis von Zeuner die direksie ingelig het dat hy vanweë persoonlike omstandighede nie as voorsitter herkiesbaar is op vanjaar se jaarvergadering nie.
Tongaat Hulett het meer as 26 000 werknemers en bedien meer as 20 000 rietkwekers in die vier lande.
Von Zeuner sal tot 30 Junie in die direksie aanbly om met ’n gladde oorgang te help. Hy sal dán ook as ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van die maatskappy uittree.
Luidens ’n nuusvrystelling van die maatskappy vergemaklik Tongaat se opvolgbeplanningsprosesse die oorgang.
Mnr. David Noko, hoof- onafhanklike nie-uitvoerende direkteur, dien reeds as tussentydse voorsitter. Hy het sedert 1 Julie 2020 as hoof- nie-uitvoerende direkteur in die Tongaat-direksie gedien.
Noko het ’n hoër nasionale diploma in meganiese ingenieurswese, ’n MDP en ’n MBA, en is die hoofadviseur by sy konsultasiemaatskappy, ESG Advisory. Hy was uitvoerende vise-president by AngloGold Ashanti en is voorsitter van die raad van die Universiteit van die Vrystaat.
Die direksie het begin met die soektog na ’n plaasvervanger. Aandeelhouers sal in kennis gestel word sodra ’n geskikte kandidaat geïdentifiseer is.
Mnr. Gavin Hudson, uitvoerende hoof van Tongaat Hulett, bedank Von Zeuner vir sy leierskap, leiding en ondersteuning gedurende die moeilike tyd wat die maatskappy deurgegaan het.
“Deur Noko as die tussentydse voorsitter te verwelkom, troos ons dat ons pogings om die ommekeer en herkapitalisering te voltooi, by ’n buitengewone diepte van bestuurskundigheid in die direksie sal baat vind.”
Hudson sê die maatskappy bly verbind tot die herkapitaliseringsproses. “Ons glo die proses sal die intrinsieke aandeelhouerswaarde van die maatskappy beskerm en ’n nalatenskap skep vir die halfmiljoen mense reg oor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat afhanklik is van die bestaan van Tongaat Hulett. Ons skakeling met leners, aandeelhouers en reguleerders om dit tot uitvoering te bring, duur voort.”