
Die beste vroulike agri-entrepreneur vir 2010 kom van Limpopo en sy is onlangs met dié toekenning in die Oos-Kaap vereer, sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Luidens ‘n verklaring is me. Mavies Mogasie Mathabatha Saterdagaand (28 Augustus) met dié titel in Jeffreysbaai bekroon, terwyl agt ander wenners van ander afdelings ook vereer is.
Mathabatha pluk die blare van die Moringabome in haar omgewing. Sy droog dan dié blare en verwerk dit tot ‘n poeier wat oor byvoorbeeld pap gegooi kan word. Dit blare bevat glo baie vitamiene en proteïne.
Die hoofdoel van die kompetisie is om vroue se aandeel in die drie sektore waarby die departement betrokke is, te erken. Dit fokus ook op vroue en jeugdiges se pogings om tot voedselsekerheid by te dra.
“Harde werk is nodig”
Me. Sizakele Khumalo, pres. Jacob Zuma se vrou wat as Ma Khumalo bekend staan, was ‘n gasspreker by die geleentheid. Sy het opgemerk dat mense nie lui moet wees nie, maar bereid moet wees om hard te werk.
“Slegs deur harde werk sal ons in staat wees om dié land te voed.”
Die ander wenners
Die toekenning vir beste vroulike werker in die bosboubedryf is aan me. Grace Hlatshwayo van Mpumalanga oorhandig. Die toekenning vir beste bestaansprodusent is aan die Mogogakgomo-projek van Noordwes oorhandig. Die beste bestaansprodusent in die visserye-afdeling is me. Dolie Mthembu van KwaZulu-Natal.
Me. Serena Vivashe van die Noord-Kaap is as die beste jong entrepreneur in dié provinsie aangewys en die top entrepreneur vir kleinboere in die onderafdeling vir verwerking was me. Nerne van der Merwe van die Vrystaat. Die top entrepreneur in die kommersiële afdeling in tuinbou en gewasse het aan die Emmanuel Haven-plaas in die Oos-Kaap gegaan.
Die wenner in die vee-onderafdeling was me. Karin Pretorius van Gauteng. Mathabatha was ook die wenner van die verwerking-onderafdeling. Me. Adele Hattingh van die Wes-Kaap is die wenner van die toekenning vir top entrepreneur vir die uitvoermark in die visserye-bedryf.
31 Augustus 2010