
KwaZulu-Natal boere moes magteloos toekyk hoedat moeder natuur in al haar mag in ’n ongewone wyse op hul plase toesak. Eers het twee tornado’s verskyn en daarna het ’n erge haelstorm oor ’n wye gebied in die provinsie uitgesak.
Op Donderdag 20 November, het die eerste van twee tornado’s in KZN naby Scheepersnek, net suid van Vryheid, voorgekom. Twee dae later het ’n groter tornado, ongeveer 15km oos van die eerste tornado, in die Bloedrivier-omgewing, sy verskyning gemaak.
"Behalwe skade aan die veld, is daar tot nog toe geen skade of verliese van menselewens, vee of toerusting aangemeld nie,” sê mnr. Ken Taylor, lid van die Kambula-boerevereniging naby Vryheid.
Die natuur het die KwaZulu-Natallers wéér net twee dae blaaskans gegee en toe ’n haelstorm op Maandag 24 November, naby Howick voorgekom het.
“Ons het heelwat skade aan al ons blaarslaai-aanplantings het,” sê mnr. Manny Salgabo, wat op huurgrond in Dargle boer. “Maar ons is al gewoond daaraan. As ons ná 38 jaar steeds verras is as dit gebeur, dan is daar iets verkeerd met ons,” meen hy.
Die hael het van Pietermaritzburg in die ooste tot by Nottingham Road in die weste neergesak en is deur ’n sterk westewind aangeblaas.
Mnr. Clayton van der Merwe, ’n weer-entoesias en inwoner van Howick, was op die N3-snelweg vasgevang toe die haelbui Maandag uitgesak het. “Ek woon al 28 jaar hier en hierdie storm was die ergste wat ek nog gesien het. Op sommige plekke het die hael tot drie voet diep gelê,” vertel Van der Merwe.
Hy meen die storm het ongeveer 40 minute geduur en is erger as die haelstorm wat Howick ’n maand gelede getref het. “Beide hierdie storms was ongewoon. Ons verwag vier of vyf haelstorms elke somer, maar die intensiteit en die grootte van die haelkorrels van die afgelope twee storms is nie normaal nie,” meen Van der Merwe.