
As jy wil weet wat in die ekonomie hier gaan gebeur, kyk na wat in die buiteland aangaan, veral in Amerika. Dit was die raad van mnr. Dave Mohr, hoof-beleggingstrateeg van Old Mutual Wealth by die Lutzville-skou.
Hy het daarop gewys dat Amerika en Europa besig is om te herstel van die resessie, maar dat herstel langsamer plaasvind as in die verlede. “Amerika het sedert 1961 altyd vinnig herstel na ekonomiese insinkings, met groeikoerse van 3% na 6%. Herstel ná die ekonomiese insinking wat in 2009 begin het, is egter die slegste nóg teen net 2%. In Europa is die ekonomie kleiner as voor 2007. En alhoewel dit nie so 'n groot impak op Brasilië, China, Rusland en Indië gehad het nie, is groei ook stadiger in hierdie lande as voor die resessie.”
Volgens hom kan die situasie oor die algemene vergelyk word met hoe dit was tydens die Groot Depressie. Inflasie is relatief laag - tussen 1,5% en 2% per jaar – en waar banke in die verlede bang was dat inflasie met hulle sou weghardloop, is hulle nou bang vir deflasie. Wat al klaar besig is om in Japan kop uit te steek met eiendomspryse wat onder markwaarde daal.
Rentekoerse is ook gunstig – bykans 0% in Amerika en Europa – tog is mense versigtig om nuwe skuld aan te gaan omdat loonverhogings nie oor die algemeen hoog is ten spyte van ’n algemene verbetering in produksie. Mohr het verduidelik dat dit is omdat Amerika en Europa mededingender wil wees teen China en Rusland. “Dieselfde is ook besig om hier te gebeur. Behalwe vir die klein groepies mense in mynwese wat groot verhogings gekry het, het die groter meerderheid van werknemers in Suid-Afrika vanjaar ook nie baie groot verhogings gekry nie.”
Aandeelhouers is volgens hom, die enigste mense wat onder die huidige ekonomiese klimaat goed vaar en hy voorspel dat dit nog vir ’n ruk so kan aangaan. Hy het gesê dat dit nou ’n goeie tyd is om in aandele te diversifiseer – veral as jou risiko’s nie versprei is nie: “Dit is nooit goed om alles wat jy het net in een ding, soos byvoorbeeld jou plaas, te belê nie. Onsekerheid oor eiendomsreg, maak hierdie beginsel nou nog belangriker.”
Mohr sê dat stadige herstel van die wêreld ekonomie ’n baie groot impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie het omdat sowat 30% van ons inkomste gegenereer word deur uitvoer en ons met ’n handelstekort van sowat R150 miljard sit. Sowat 40% van ons ekonomie word deur buitelanders besit. Dit kan uitvoer negatief beïnvloed, aangesien inkomste onder druk is en die meeste verbruikers probeer om hulle skuldlas te probeer verminder.
Verder kan dit ook daartoe lei dat ons sukkel om ons handelstekort te verklein. “Dit is okei om ’n groot handelstekort vir ’n paar jaar te hê, maar daarna moet daar bewyse wees dat die handelstekort besig is om te verklein. Anders kan dit ’n negatiewe impak op buitelandse beleggings hê.”
Byskrif: Mnre. Leon van Schalkwyk van Nedbank, Dave Mohr van Old Mutual, Johann Engelbrecht van Kaap Agri, Theuns Duvenhage van DB Vleis en Louwrens Laubscher van Nedbank het onlangs die Cape Agri Landbou-seminaar by Lutzville bygewoon. Foto: Glenneis Kriel (klik net op foto om te vergroot).