
Proteksionisme kan in die toekoms toeneem soos lande “die geledere sluit” om hulself te beskerm, sê mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa-Agribesigheid se sentrum vir uitnemendheid.
Hy het op die bekendstelling van Absa se jaarlikse vooruitskouing vir die landbou gesê Brexit en die verkiesing van die aangewese Amerikaanse president, Donald Trump, is tekens van ’n groeiende proteksionistiese ingesteldheid. Hy skryf die neiging onder meer toe aan die wêreldekonomie se trae groei.
“Mense word nie ryker nie en wil nie meer vir kos betaal nie,” sê hy. Die algemene verwagting is dat kommoditeitspryse, asook landboukommoditeitspryse, sywaarts gaan neig. Hoe Suid-Afrikaanse landbouers dié pryse gaan ervaar, sal egter afhang van die wisselkoers.
Janovsky verwag dit gaan op langer termyn aanhou verswak. Hy sê Suid-Afrika se mededingendheid word grootliks deur sy wisselkoers bepaal. Omdat die wisselkoers op sy beurt bepaal word deur die land se betalingsbalans, en Suid-Afrika ’n tekort op sy lopende rekening het, moet die land beleggings lok om dié tekort te balanseer. Regeringsbeleide belemmer egter laasgenoemde.
Kapitaalkoste
Janovsky sê daar is nou minder druk om rentekoerse weens onder meer inflasionêre druk te verhoog. Die behoefte aan beleggers wat met ’n reële rentekoers aangemoedig word om in Suid-Afrika te belê, kan egter tot ’n verhoging lei. Dit is egter ook belangrik om daarop te let dat die koste van kapitaal op lang termyn styg omdat die beskikbaarheid van beleggingsgeld afneem soos wat daar ál meer afgetredenes is in verhouding tot werkendes wat bydra tot pensioengeld.
“In die vroeë 2000’s kon ’n mens maklik ’n 100%-verband teen prima minus 3% kry. Vandag sou jy ’n deposito van 20% tot 30% moet hê, en jy sal sukkel om ’n lening onder die primakoers te kry. “Dit dui op ’n toename van nagenoeg 3% in die koste van kapitaal. Die verwagting is dat die koste van kapitaal sal aanhou styg namate die wêreldbevolking ouer word.” Dit beteken geld vir kapitaaluitbreidings gaan duurder word.
Plaaspryse en tegnologie
’n Belegging in landbougrond is egter steeds ’n baie goeie plan – plaasgrondwaardes sal blý styg, sê Janovsky. “Daar is nie genoeg landbougrond in die wêreld nie. As jy nie nóú koop nie, gaan dit volgende keer duurder wees.”
Boere moet egter langtermynontwikkelings in gedagte hou. Nuwe produksietegnologieë kan uiteindelik meebring dat produksie na geboue en stede skuif, onder meer in die vorm van die vertikale produksie van groente en die kunsmatige produksie van sekere vleissoorte.
Regstreekse, verpersoonlikte bemarking kan ook, danksy tegnologie, in die toekoms supermarket vervang, wat vir boere bemarkingsgeleenthede skep.
Neigings by verbruikers
’n Ander langtermynneiging om dop te hou, is verbruikers wat meer bewus word van ’n gesonde leefstyl teenoor oormatig eet. Janovsky sê die inname van kilojoules daal veral in Noord-Amerika namate mense meer bewus word van die gevare van vetsug.
As verstadigende bevolkingsgroeineigings saam met die potensiële afplatting van kilojoule-inname beskou word, kan dit meebring dat die groei in die vraag na voedsel in die tweede helfte van die eeu kan verstadig. “Dit, gepaard met nuwe produksietegnologieë, kan op die lang duur ’n ingrypende uitwerking op landboukommoditeitspryse hê.
“Dit moet in ag geneem word voordat langtermynbeleggings in die landbou gemaak word.”
Droogte
Vir volgende jaar lyk die vooruitsigte vir plaaslike landbou intussen beter danksy die reënval wat voorspel word. Janovsky sê vanjaar se droogte kan met die droogte van 1967 en 1983 vergelyk word. Die groot verskil is dat die onlangse droogte die eerste was wat Suid-Afrika binne ’n vrye landboumark ondervind het.
“Die netto uitwerking is ’n val in volume van nagenoeg 30%. Pryse het daarteenoor met sowat 60% gestyg.” Die netto uitwerking op die landbou in geheel was dat die droogte deur prysstygings geneutraliseer is. Dit geld egter nie vir alle boere nie omdat sommiges algehele misoeste beleef het.