Swart kleinskaalse- en bestaansboere het meer ondersteuning in opleiding, sake-mentorskap, finansiering, navorsing en ontwikkeling nodig, sê mnr. Ismail Motala, Wes-Kaap se suiwel-ontwikkelingskomitee se voorsitter.
Agri Megaweek poog om klein- en bestaansboere se pad gelyk te maak met indabas en gesprekvoeringe. Landboutransformasie gaan een van die besprekingspunte by vanjaar se Agri Megaweek op Bredasdorp van 15 tot 17 September.
Motala sê die suksesfaktor van kleinboere hang aan ‘n baie dun draadjie. “Hulle sukses is baie afhanklik van wit kommersiële boere en hul bedryfsorganisasies wat toegang tot die bedryf moet bewerkstellig.”
Pioniers in Agri Transformasie word Donderdag 16 September aangebied. Tydens dié program sal mnr. Dudley Adolph, hoofdirekteur van FSD by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, programdirekteur wees.
Onder die genooide sprekers is dr. Tobias Doyer, van Santam Landbou, mnr. Willie du Plessis, van Standard Bank, en me. Joyene Isaacs, hoof van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap.
Aanbiedinge van pioniers
Die hoogtepunt van die program gaan die aanbiedings van ware pioniers in transformasie wees. Ware verhale van suksesvolle transformasie gaan met kleinboere gedeel word deur mnre. Trevor Abrahams met ondersteuning van Robert Graaff, Leon Muyburgh, van Agri Dwala en die projek se mentors Kosie van Zyl, Piet Blom en Maryna Marengo-Barnard, sakevrou en produsent, met kleinboere gedeel word.
Dié sprekers gaan die suksesse, uitdagings en visie vir die toekoms eerstehands oordra. Die Konsep van transformasie in die landbou met kommoditeitsorganisasies sal tydens ‘n volgende sessie bespreek word.
Insette gaan deur mnre. Gerrit van Rensburg, minister van landbou en landelike ontwikkeling in Wes-Kaap, Terrence Fife, uitvoerende hoof van Casidra, Ismail Motala, voorsitter van die Wes-Kaap suiwelingsontwikkelingskomitee en prof Johan van Rooyen van die Universiteit van Stellenbosch.
Kleinboere word aangemoedig om die uitstallings en demonstrasies by Mega Park te besoek en sodoende hulle kennis en vaardighede uit te brei. Vir meer inligting, kontak gerus Agri Mega se kantore in Bredasdorp by 028 424 2890 of Paarl by 021 863 4055 of besoek www.agrimega.co.za
6 September 2010