Watergebruik kan nie getransformeer word voordat die landbou nie getransformeer is nie. Só meen prof. Mike Muller, voormalige direkteur-generaal van waterwese en besoekende hoogleraar aan die skool vir regeerkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Muller het as spreker op ’n konferensie van die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (Saafwua) gesê ’n mens kan nie watergebruik transformeer nie, maar wel die bedrywighede wat water gebruik.
“Die hoeveelheid gesprekke oor die transformasie van watergebruik in die land maak my bekommerd. Watergebruik is nie op sigself ’n bedrywigheid nie. ’n Mens gebruik water vir ’n doel.