
’n Ooreenkoms wat in beginsel deur Transnet en CRRC E-Loco, die plaaslike afdeling van China Railway Rolling Stock Corporation, aangegaan is, kan help om alle voortslepende wetlike dispute tussen die twee maatskappye aan te pak.
In ’n verklaring sê Transnet dié ooreenkoms sal hom in staat stel om dringende aandag aan sy spoorwegnetwerk te gee en sodoende in die behoeftes van kliënte te voorsien.
Dit beteken CRRC E-Loco sal onder meer broodnodige lokomotief-onderdele aan Transnet verskaf sodat 120 lokomotiewe wat tans nie gebruik kan word nie, weer ingespan kan word.
Die aankondiging is Woensdag deur Transnet gemaak.
Transnet het vroeër vandeesmaand ’n dringende aansoek by die Noord-Gautengse hooggeregshof ingedien om CRCC te dwing om ingevoerde, noodsaaklike onderdele aan Transnet te verskaf.
In sy aansoek het Transnet aangevoer die ingevoerde onderdele is nodig om die 195 lokomotiewe wat Transnet onderskeidelik in 2012 en 2014 van CRCC verkry het, te diens en in stand te hou.
Die volgende stappe sal wees om ’n definitiewe skikkingsooreenkoms te bereik en huidige geskille tussen die twee partye op te los.
Hoës in hegtenis
Vroeër vandeesweek het dit bekend geword mnre. Brian Molefe en Anoj Singh, albei voormalige topbestuurslui van Transnet, is deur die Valke in hegtenis geneem.
Molefe, ’n voormalige uitvoerende hoof van Transnet, en Singh, voorheen finansiële hoof, het Maandag saam met nog aangeklaagdes in die Palm Ridge-hof vir gespesialiseerde handelsmisdaad verskyn.
Hul inhegtenisneming hou verband met bedrog en korrupsie van R398,4 miljoen.