
Die versoek volg op ’n interne oudit wat TNPA onderneem het om te bepaal hoe om sy kragvoorraad en koste te stabiliseer, asook koolstofvrystellings te verminder.
Mnr. Jarryd Introna, die projekbestuurder, sê die toepassing van hernubare krag by Transnet se hawens word onderskraag deur Transnet se beleid oor korporatiewe omgewingsverantwoordelikheid en is ’n goeie poging om sy bydrae tot klimaatsverandering te beperk.
TNPA hoop om, namate voorstelle ontvang word, die mark vir hernubare krag beter te verstaan, veral wat wind- en sonkrag betref, en die toevoeging van ander hernubare kragbronne, soos hibriede van hidroelektrisiteit, seekrag, biomassa en geotermiese krag, te oorweeg.
Die toepassing van die hernubarekragprogram het ten doel om 50 MW tot 80 MW hernubare kragopwekkingskapasiteit te verkry wat reg oor Suid-Afrika se agt hawens benut kan word. “Terwyl ons betroubare elektriese krag aan ons hawe-operateurs en huurders wil voorsien, verbind ons ons ook daartoe om dit op ’n finansieel verantwoordelike manier te doen wat nie die omgewing skaad nie en ’n impak op ontwikkeling sal hê.”
Dokumente om op Transnet se versoek te reageer, is beskikbaar by transnet.net en moet teen 6 September 2022 om 12:00 ingedien word.