Groot kommer heers oor Transnet se jongste aansoek om tariefaanpassings en die groot invloed wat aanpassings op die landboubedryf kan hê.
Luidens ’n berig in Business Report (27 September 2011) het dié semistaatsinstelling by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) aansoek gedoen om ’n styging van 83% in tariewe vir sy nuwe multi-produkpyplyn.
Die aansoek is ’n poging om die boukoste van die pyplyn asook ander skuld te delg. Transnet het glo R2,47 miljard se basiese inkomste vir die pyplynafdeling nodig in die 2012/’12-boekjaar.
Mnr. Mboniso Sigonela, woordvoerder vir Transnet, sê dié hoër tariewe sal ’n styging van tussen 5,5c per liter tot 10,6c per liter brandstof vir die verbruiker tot gevolg hê.
Die landboubedryf
Mnr. Johan Pienaar, ekonoom by Agri SA, sê hoewel so 'n styging nie die dieselprys regstreeks gaan beïnvloed nie, gaan dit “beslis bykomende kostedruk vir die landboubedryf veroorsaak.”
Hy sê die styging kan dieselpryse opwaarts laat neig. Vir elke 1c wat die prys van diesel per liter styg, kan R10 miljoen by die bedryf se jaarlikse produksiekoste gevoeg word.
“Hierdie styging, die toename in water- en elektrisiteitstariewe laat die kostedruk op boere van alle kante af toeneem. Die land se kostestruktuur is besig om drasties toe te neem en internasionale verslae bewys dat ons ekonomie nie meer mededingend is nie,” verduidelik Pienaar.
Nersa is tans besig om Transnet se aansoek na te gaan.
Bron: Business Report
28 September 2011