
Geen weertoepassings is 100% akkuraat nie, dus is dit wenslik om 'n paar op jou slimfoon af te laai en dan 'n gemiddelde berekening te maak.
Die raad kom van prof. Willem Landman, 'n hoogleraar in Metrologie aan die Universiteit van Pretoria.
Landman het op die Nasionale Wolkwekersvereniging se jaarkongres in die Baai 'n breedvoerige verduideliking gegee oor die El Niño- en La Niña-verskynsels en hoe dit die weerpatroon in Suid-Afrika raak.
“Hoewel die voorspellingsmodelle 'n paar maande gelede aangedui het dat 'n El Niño weer op pad na Suid-Afrika is, is diegene wat dit interpreteer, tans nie meer seker of dit wel die geval gaan wees nie. Maar dit beteken ook nie dat 'n La Niña-verskynsel ons voorland is nie.
Droër somer
“Suid-Afrika kan waarskynlik ’n droër somerseisoen te wagte wees. Vir boere wat egter nou reeds besluite oor aanplantings moet neem, sal dit egter raadsaam wees om tot September te wag om te sien wat die weerpatroon gaan wees.”
Landman glo egter dat die Wes-Kaap wat tans onder 'n droogtekrisis gebuk gaan, na betreklike goeie winterreën kan uitsien.
Volgens hom het die kombinasie van klimaat- en statistiese modelle in voorspellings meegebring dat daar deesdae meer betroubare voorspellings as in die tagtigerjare gemaak kan word.
“Ons sal egter nooit so akkuraat met seisoenvoorspellings wees as om môre sê weer te voorspel nie. Met langtermyn-seisoenvoorspellings kry ons dit drie uit die vyf jaar reg. Met ons meer gesofistikeerde modelle en rekenaars kan 'n verbetering kom, maar uiteindelik sal 'n plafon bereik word, wat ook nie 100% betroubaar sal wees nie,” het Landman gesê.