Die siening dat boere moet wag tot munisipaliteite in duie stort voor hulle betrokke raak, gaan nie werk nie, sê mnr. Marius Louw, spesiale raadgewer by die Afrikaanse Handelsinstituut.
Louw sê boere moet na gemeenskapleiers, sakevennote en medeboere kyk en vra hoe hulle ’n verskil op plaaslike regeringsvlak maak. “Vind ’n raadslid in jou munisipaliteit en bied jou hulp aan. Jy gaan dalk in ’n doodloopstraat beland, maar hou aan. Sommige munisipaliteite is wel toegankliker vir hulp as ander.”
Politieke onsekerheid, nepotisme en swak beplanning, kommunikasie en samewerking is maar ’n paar van die redes waarom die burgerlike samelewing apaties word en van die munisipaliteit verwyderd voel.
“Belastingbetalersverenigings begin dan om belasting onwettig te weerhou en oproerigheid en stakings in informele nedersettings neem toe. Om dié redes is samewerking dringend nodig. Voor 1994 is munisipale bestuurders verkies sonder dat politiek ’n rol gespeel het. Deesdae vorm plaaslike owerhede politieke magbasisse. Terwyl groot munisipaliteite deur die politieke elite bestuur word, het dienslewering ingewikkelder geword. Dit veroorsaak dat die krisis oor plaaslike dienslewering verdiep.”
Wetgewing ingevolge waarvan munisipale bestuurders slegs aangestel mag word indien hulle nie ’n politieke agtergrond het nie, word tans op Kabinetsvlak bespreek.
20 September 2010