Planne is dringend nodig om voorsorg te tref vir brandseisoene, sê Vrystaat Landbou (VL).
Dit volg ná derduisende hektare Donderdag (1 September 2011) in die distrik Reddersburg en tussen Springfontein en Smithfield afgebrand het.
Mnr. Malcolm Procter, die adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê munisipale nalatigheid het vermoedelik die brand by Reddersburg veroorsaak.
Die brand naby Jagersfontein het ontstaan ná ’n voertuig glo gerol en aan die brand geslaan het.
“Die brand het toe geloop van Jagersfontein af, verby Springfontein, bo-oor die N1 al die pad tot by Smithflied waar dit geblus is,” vertel Procter.
Volgens Procter en mnr. Henk Vermeulen, uitvoerende hoof van die VL, word opnames oor die skade tans gedoen. Terselfdertyd het ’n brand ook in die Fouriesbrug-omgewing voorgekom, maar Procter sê dié brand is baie vinnig geblus.
Hoe lank nog?
Intussen vra ’n moedelose Vermeulen “vir hoe lank wil jy nou voortgaan voordat ’n ernstige plan met voorbereidings vir die brandseisoen gemaak word?”
Vermeulen sê hy het begrip met die boere en mense wat tans baie skade het, “maar des te meer gee dit nou vir almal rede om hul beplanning op te skerp.”
“Ek dink dit is hoogtyd dat die ouens hul tyd aan beplanning bestee vir goed wat hulle wéét gaan gebeur. Dit is ook nodig dat dié wat hulle verantwoordelikheid besef druk begin plaas op dié wat laat slap lê!” aldus Vermeulen.
Noord-Kaap en Noordwes
Mnr. Simon Russouw, ’n verteenwoordiger vir Working-on-Fire in die Vrystaat, sê tans baklei hulle hard teen ’n groot brand wat sedert Donderdag (1 September 2011) in die distrik Koopmansfontein in die Noord-Kaap woed.
“Die ouens baklei nog die hele tyd, so daar was nog nie tyd om ’n opsomming van die skade te maak nie.”
Mnr. Ben Marais, die voormalige voorsitter van die TLU SA, sê hulle is verheug dat ’n brand wat ook Donderdag (1 September 2011) naby Swartruggens voorgekom het, vinnig onder beheer was. “Die brand het rondom middagete begin, en dit was kort voor vier onder beheer. Geen groot skade is aangerig nie.”
2 September 2011