
Standard Bank Suid-Afrika publiseer al sedert 1981 'n nuttige handboek oor finansies en plaasbestuur. Dié boek is gebaseer op teorie en praktyk en word gesteun deur relevante, bygewerkte voorbeelde en gevallestudies. Die groot tersiêre instellings in Suid-Afrika gebruik die boek en dit is 'n waardevolle, praktiese gids vir die eienaars van plaasbesighede.
Hoewel die boek aanvanklik slegs vir boere geskryf is, het die fokus oor tyd verander en is dit nou 'n belangrike verwysing vir plaasbestuurders en 'n nuttige teksboek vir studente aan universiteite en landboukolleges, aldus mnr. Nico Groenewald, hoof van Agribusiness by Standard Bank.
Veranderende omgewing
Die nuwe uitgawe bevat bygewerkte hoofstukke oor die veranderende omgewing van die landbou, asook dié van agri-besighede, dit bevat finansiële en beleggingsontledings, risikobestuur, begrotings vir plaasondernemings, projekbestuur en nog veel meer. Die formaat is net kleiner as A4 en bevat 16 hoofstukke en beslaan 375 bladsye op glanspapier.
Groenewald sê Standard Bank bied ook ontwikkelingsprogramme vir gegradueerdes om toekomstige leiers en spesialiste in die landbou te help bou. “Hierdie programme stel jong gegradueerdes in staat om waardevolle vaardighede en ervaring te bekom, sodat hulle kan help om ons landbou vorentoe te laat beweeg.”
* Die boek is beskikbaar teen R290, insluitende afleweringskoste. Dit word verkoop aan enigiemand wat dit nodig het. Boekwinkels naby universiteite wat landboubestuur aanbied, het norwaalweg kopieë te koop. Die boek kan regstreeks van Standard Bank bestel word, by: SBSA.Agricultural@standardbank.co.za