
Die bestuurder van die vragmotor wat Vrydag (13 Julie 2012) teen ’n trein in Mpumalanga gebots het, het glo nie die waarskuwingseine van die trein gehoor nie. Hy verskyn Maandag (16 Julie 2012) in die landdroshof op Tonga, waar hy deur 25 aanklagte van moord in die gesig gestaar word.
Die vragmotor het plaaswerkers na hul werk toe vervoer toe dit net buite Hectorspruit teen ’n volgelaaide steenkooltrein gebots het. Luidens ’n berig op JacarandaFM het altesaam 25 mense sedert die ongeluk beswyk. Drie mense is glo nog in ’n kritieke toestand in ’n plaaslike hospitaal.
Die bestuurder sal volgens berigte vir eers nie om borgtog aansoek doen nie.
Trekkerongeluk
Intussen verskyn drie persone in die Tulbagh-landdroshof in verband met ’n trekkerongeluk wat in Januarie vanjaar plaasgevind het. Agt mense het in die ongeluk omgekom en 22 is beseer. Luidens ’n berig op News24.com is klagte van strafbare manslag teen mnre. Izak Stuurman, James van Rooyen en Gert Engelbrecht gelê.
Stuurman het die trekker bestuur. Die ongeluk het op die Kleinbergrivier-brug in Gouda plaasgevind. Twee vragmotors het die brug genader. Die eerste kon betyds stop, maar die tweede het uitgeswaai, waarna dit ’n voertuig en die trekker getref het.
Die twee vragmotors was glo padwaardig, maar nie die trekker nie. Van Rooyen is die eienaar van die trekker.
Bronne: JacarandaFM en News24.com