
Die georganiseerde landbou is nie van plan om by die situasie en ondersoeke na verlede week se treinongeluk in Mpumalanga betrokke te raak nie. Volgens berigte is 25 mense in die ongeluk dood en verskeie beseer.
Die ongeluk het gebeur ná ’n vragmotor, wat werkers na ’n plaas vervoer het, by ’n spooroorgang voor ’n volgelaaide steenkooltrein beland het. Die bestuurder het glo nie die trein se verskeie waarskuwingseine gehoor nie.
Mnr. Hennie Laas, hoof uitvoerende beampte, sê volgens die inligting wat hulle het, is die Departement van Arbeid se eise teen die boer ongegrond. “Die georganiseerde landbou beoog nie om by die ondersoek en situasie betrokke te raak nie, want dit wil voorkom asof dit tans as politieke speelbal gebruik word.”
Oortreding
Die Departement van Arbeid het ’n ondersoek na die voorval geloods. Me. Mildred Oliphant het volgens ’n berig op Nuus24.com gesê ’n voorlopige ondersoek het bevind die boer het die Arbeidswet oortree.
Die boer het glo nie inligting oor die werkers nie, wat ’n oortreding van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is. Volgens dié wet moet werkgewers besonderhede van hul werknemers hê, insluitend dié van hul naasbestaandes.
Laas sê sover hul kennis strek, was die werkers in diens van ’n arbeidsmakelaar en nié die boer nie. “Die arbeidsmakelaar het glo ook ’n subkontrakteur gekry om werkers te vervoer. Die vragmotor is dié subkontrakteur se eiendom en die bestuurder werk vir hom.”
Die boer is nie ’n lid van die georganiseerde landbou nie.