
Tot dan gaan die hele wêreld noustrop trek as dit by die petrolpomp kom, maar dis nie die verbruiker se grootste kopseer nie.
Weimar het op Mpumalanga Landbou se kongres gesê die wêreld kan planne beraam om die energietekort weens die boikotte van Russiese gas en olie ná dié land se inval in Oekraïne omseil. Dit gaan egter nie so maklik wees om voedseltekorte aan te vul nie. Volgens die internasionale voedselorganisasie se voedselprysindeks is die wêreld se kos reeds 29% duurder as voor die oorlog begin het en dit kan selfs langer as ruolie so duur bly.
Weimar het gesê dit is omdat voedselproduksie nie so vinnig opgestoot kan word soos bykomende energieproduksie nie. “Dit verg kundigheid om kos te produseer en daar is net soveel kundige boere op aarde. Dit kos tyd om nuwe boere op te lei en om grond produktief te kry.”
Sy het gesê boere is in die regte bedryf en staan ’n kans om goeie winste te maak mits die klimaat saamspeel en Suid-Afrika se wankelende vervoer- en kragnetwerke staande bly.
Volgens haar is Eskom die grootste rem op Suid-Afrika se ekonomie met logistieke infrastruktuur kort op sy hakke. “Ons het twee nuwe kragsentrales en wek nou minder elektrisiteit op as in 2002. Ons het nie ’n goeie spoornetwerk nie, wat ons aangewese maak op padvervoer waar ons net klein bietjies per vrag kan vervoer. Boonop is ons hawens van die duurste ter wêreld, terwyl dit uiters ondoeltreffend is.”
Weimar het gesê niemand gaan groot beleggings in Suid-Afrika maak tot hierdie kwessies aangepak is nie. Hoewel die bestuur van Eskom en Transnet hard daaraan werk, het die staat nie geld om dit vinnig reg te stel nie. Suid-Afrika se ekonomiese herstel hang dus van die private sektor af. Dit is juis boere en landboubesighede se beleggings in hernieubare energiebronne en planne met logistieke probleme wat die deurslag gee.
Deur betrokke te bly en te help oplossings vind, sal boere by goeie internasionale voedselpryse kan baat vind. Weimar het egter gewaarsku dat die rand vir die voorsienbare toekoms wisselvallig gaan verhandel teen die dollar en euro en dat Suid-Afrikaners hulle kan regmaak vir nog rentekoersverhogings. Sy meen die prima rentekoers kan teen vroeg volgende jaar ’n hoogtepunt van 10% bereik waarna dinge teen die einde van die jaar weer sal normaliseer, mits die wêreld nie ’n resessie beleef nie.