Die munisipale verkiesing vind op Woensdag 18 Mei plaas, het waarnemende pres. Kgalema Motlanthe bekend gemaak.
Volgens die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture van 1998, is die termyn vir munisipale rade vyf jaar, gereken van die dag wat volg op die datum van die verkiesing van die vorige rade.
Motlanthe het gesê mnr. Sicelo Shiceka, Minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, sal volgende week die verkiesingsdatum amptelik proklameer deur ’n kennisgewing in die Staatskoerant te publiseer.
“Ons het besluit om die verkiesingsdatum nou bekend te maak om die Verkiesingskommissie meer sekerheid en tyd te gee om vir die verkiesing voor te berei.”
Wanneer die verkiesingsdatum volgende week gepubliseer is, sal die munisipale segment van die kiesersrol sluit.
Dit beteken dat vandag tot en met die publisering van die datum die laaste kans sal wees vir kiesers wat mag stem om te verseker dat hul name op die kiesersrol verskyn.
Kgalema het ’n beroep op landsburgers gedoen om ten volle van die laaste registrasienaweek, 5 en 6 Maart, gebruik te maak om hul besonderhede op die kiesersrol na te gaan.
3 Maart 2011