
By ten minste agt boere in Delmas is die afgelope twee jaar trekkers gesteel. Van die trekkers het nog werktuie aangehak gehad en dié is ook skoonveld.
Mnr. Tommie Olckers, produksiebestuurder by die Schoeman-boerdery op Delmas, sê die afgelope tien jaar is reeds nege trekkers by die boerdery gesteel. “Ons het wel vier daarvan ná 'n soektog teruggekry, maar een van die vier is wéér daarna gesteel,” het hy gesê.
Van die trekkers wat teruggevind is, is op Chrissiesmeer, naby die grens van Swaziland, gevind. Olckers sê 'n private speurder wat deur die boerdery aangestel is om die diefstal te ondersoek, meen dat die trekkers na Suid-Afrika se buurlande gesmokkel word.
“In die begin was dit net die klein trekkers van 60 kW wat gesteel is, maar daar het nou 'n neiging onder die diewe begin posvat om spesifiek John Deere 6-reekstrekkers, soos die 6410, 6630 en selfs die groter 6930, te teiken. Daar is tans twee soorte diewe by die misdaad betrokke, naamlik diegene wat plaaslik trekkers steel, die trekkers opkap en die onderdele verkoop en dan 'n sindikaat wat trekkers op bestelling steel, dit op 'n vragmotor laai en oor die grens neem,” het Olckers gesê.
Dit is ook kommerwekkend dat dit lyk asof die polisie onwillig is om by die sake betrokke te raak.
“Dit is asof die diefstal nie gesien word as 'n ernstige misdaad nie omdat daar geen slagoffers by betrokke is nie,” sê mnr. Brent Parrot, hoofbestuurder van die Schoeman-boerdery.
“Boonop is daar n probleem met mannekrag op plattelandse polisiestasies. Daarom het ons n private speurder aangestel om die diefstal te ondersoek,” het hy gesê.