Trekkerverkope het vanjaar skerp toegeneem met ’n styging van 32% wat tussen November verlede jaar en November vanjaar aangeteken is, sê die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-vereniging (SAAMA).
Luidens ’n mediaverklaring is ’n styging van 44% in die eerste 11 maande van vanjaar vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar, aangeteken.
Stroperverkope was verlede maand 17 eenhede teenoor die ooreenstemmende maand verlede jaar se 8 eenhede. Vir die jaar tot dusver staan stroperverkope op 256 eenhede, wat 47% hoër is as verkope vir die eerste elf maande van verlede jaar.
13 maande
Volgens SAAMA het trekkerverkope die afgelope 13 maande elke maand ’n styging teenoor die ooreenstemmende maand in die vorige jaar aangeteken. Volgens die vereniging is dít ’n weerspieëling van die volgehoue optimisme wat die landboumasjineriemark ervaar.
“Die skerp daling in die waarde van die rand sal lei tot prysverhogings in die afsienbare toekoms en dit het beteken dat baie boere vroeër oor aankope besluit het,” aldus SAAMA. Die vereniging is egter positief oor vooruitsigte vir kommoditeitspryse en die koringoes wat tans ingebring word.
SAAMA verwag dat die totale trekkerverkope vir vanjaar op 7 300 tot 7 400 te staan gaan kom, wat sowat 40% hoër as verlede jaar se totale verkope sal wees.
13 Desember 2011