
Trekkerverkope vir Augustus vanjaar het op 642 eenhede te staan gekom - byna 37% hoër as die 470 eenhede wat in Augustus verlede jaar verkoop is.
Luidens ’n verklaring sê die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SAAMA) dié syfer beteken dat trekkerverkope byna 35% hoër is tot Augustus vanjaar as verkope vir die eerste agt maande van verlede jaar.
Volgehoue optimisme
Stroperverkope van 10 eenhede in Augustus is dieselfde as verlede jaar in Augustus. Tot op hede is stroperverkope van 175 eenhede vanjaar 17% hoër as verkope vir die eerste agt maande van verlede jaar.
Die SAAMA sê trekkerverkope is vir die tiende agtereenvolgende maand sedert November verlede jaar, elke maand hoër as die ooreenstemmende maand in die vorige jaar. Dit weerspieël die volgehoue optimisme in die mark vir landboumasjinerie.
Ramings vir trekkerverkope vir die 2011-kalenderjaar is vandeesmaand weer hoër aangepas, tot tussen 6 700 en 7 000 eenhede, ongeveer 30% tot 35% meer as verkope vir verlede jaar.
6 September 2011