
Trekkerverkope van 460 eenhede in Augustus is 22% laer as die 589 eenhede wat verlede Augustus verkoop is, sê mnr. Lucas Groenewald, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope ongeveer 15% laer as verkope vir die vorige ooreenstemmende tydperk.
Stroperverkope van ses eenhede in Augustus is ook aansienlik laer as die 15 eenhede wat verlede Augustus verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope ongeveer 14% laer as verkope verlede jaar.
Hoewel sentiment in die mark steeds positief is, wag boere in die somergewasgebiede versigtig op die aanvang van die somerreënseisoen. Plaaslike en internasionale weerdienste wys daarop dat die El Niño-verskynsel omgekeer is in ?n swak La Niña-verskynsel. Dit kan dui op gunstiger vooruitsigte vir meer normale somerreënval as wat vir ?n geruime tyd beleef is.
Die nagevolge van die swak reënval oor die afgelope paar jaar sal nie maklik oorbrug word nie en die mark sal steeds oor die kort termyn moeilike tye moet oorkom. Weerstoestande, en tot ?n geringer mate die wisselkoers, sal die belangrikste aandrywers wees vir die res van 2016.
Ramings in die bedryf is steeds dat trekkerverkope in 2016 tussen 15% en 20% laer sal wees as verkope vir die vorige jaar.