Trekkerverkope vir September het met 11% afgeneem in vergelyking met September verlede jaar.
Altesaam 426 eenhede is in September vanjaar verkoop teenoor die 480 van verlede jaar. Trekkerverkope vir die jaar, tot dusver, is steeds ongeveer 12% laer as verlede jaar. Stroperverkope van sewe eenhede in September is meer as dubbel die verkope vir September verlede jaar, maar is steeds 33% laer vir die jaar tot dusver.
Mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjienerieassosiasie, sê baie dele van die land is redelik droog. “Gebiede waar suikerriet en koring verbou word, word veral sleg geraak deur die droogte. In somerreënvalgebiede wag boere nog op reën voordat hulle kan voortgaan met die aanplant van somergewasse. Totdat dit reën, sal boere besluite oor trekkeraankope uitstel.”
Met die groot mieliesurplus in die mark, word boere versoek om vanjaar minder mielies aan te plant. Sekere van die landerye wat nie gebruik sal word vir die aanplant van mielies nie, sal gebruik word vir ander somergewasse. Regeringstenders het vanjaar ’n aansienlike invloed gehad op die mark. Ramings oor verkope in die bedryf, vir 2010, bly nietemin ongeveer 5 000 eenhede, sowat 10% laer as verkope verlede jaar.
6 Oktober 2010