Trekkerverkope het verlede jaar die hoogte ingeskiet toe 43% meer trekkers verkoop is as in 2010, aldus die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-vereniging (SAAMA).
Luidens ’n verklaring het stroperverkope vir die jaar met 38% gestyg teenoor 2010. Altesaam 7 379 trekkers en 260 stropers is verlede jaar verkoop.
In Desember verlede jaar het stroperverkope op 488 eenhede te staan gekom, wat 28% hoër was as verkope in Desember 2010. Stroperverkope vir verlede maand was wel aansienlik laer met 4 eenhede wat verkoop is teenoor 14 eenhede in Desember 2010.
Vooruitsigte vir 2012
Volgens die SAAMA word verwag dat tussen 6 500 en 7 000 trekkers vanjaar verkoop sal word, wat tussen 5% en 10% minder is as verlede jaar.
Die vereniging sê die mark is steeds optimisties oor die jaar wat voorlê, veral weens goeie kommoditeitspryse. Ná verwagting sal 10% meer mielies vir die 2011-’12-somerseisoen aangeplant word, maar dít kan verander weens die onsekere somerreënseisoen in sekere dele.
“Volgens aanduidings sal die huidige kommoditeitspryse waarskynlik volgehou word, minstens totdat die oes van somergewasse vir die 2011-‘12-somerseisoen begin,” lui die verklaring.
10 Januarie 2012