
Die duurste buffelkoei nóg in Suid-Afrika is die afgelope naweek vir R20 miljoen op ’n wildveiling in Rustenburg verkoop.
Luidens ’n berig in Volksblad sê mnr. Jaco Troskie, seun van die rolprent-miljoenêr mnr. Boet Troskie, hy kon nie die veiling sonder die buffelkoei, Tanzania, verlaat nie.
Die dier se horingspan is 43 duim en sy het van die topgene in die wêreld. “Ek is baie tevrede met my belegging. As daar een ding is wat die sakewêreld my geleer het, is dit om op lang termyn te belê,” aldus Troskie.
Troskie en mnr. Cyril Ramaphosa, ’n bekende sakeman en politikus, het tot op die einde teen mekaar vir dié dier gebie. Dít is die hoogste prys nóg wat vir ’n buffel betaal is. Die vorige rekordprys was R18 miljoen.
R 64 miljoen
Troskie het op die veiling altesaam R64 miljoen aan 9 buffelkoeie, 3 met kalwers en van die ander dragtig, bestee. Dié diere sal saam met die familie se 260 stuks wild op hul wildplaas in die omgewing van Boshof aangehou word.
“Ek het groot vertroue in die wildbedryf, daarom het ek nie geskroom om Tanzania te koop nie. Sover ek weet, is dit die grootste buffelkoei in aanhouding. Die kans om só ’n koei te koop, kom net een keer in ’n leeftyd voor,” vertel Troskie.
Sowat R145 miljoen is op dié veiling bestee. Tanzania was die eiendom van mnr. Piet du Toit, een van die land se topwildboere.
Bron: Volksblad
16 April 2012