
Bigbucks, Tru-Cape Vrugtebemarking se nuwe, beter kloon van die Gala-appelfamilie, is deur mnr. P.J. (Buks) Nel, Tru-Cape se kultivar-deskundige ontdek en het ’n 93%-uitpakpersentasie op die eerste 60-krat-oes gelewer. “Ons het gehoop op ’n 90%-uitpakpersentasie,” verduidelik Nel.
“Dit is alreeds ’n 30%-verbetering op die Gala-familie, so om ’n 93%-uitpakpersentasie te lewer - die persentasie verkoopbare vrugte van ’n enkele pluksessie - is uiters indrukwekkend.”
Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê soos Royal Beaut, ontdek deur mnr. Robert Zulch op Wakkerstroom in die Witzenberg-vallei by Ceres, Corder Gala deur mnr. Derek Corder op Beaulieu by Grabouw en nou Bigbucks deur P.J. (Buks) Nel, is Tru-Cape steeds die leier in die ontwikkeling van beter stamme en beste groeipraktyke.
“Ons is uiters trots op Buks. Die ontdekking is die welverdiende beloning vir ’n leeftyd van passie en toewyding aan die vrugtebedryf en gereelde wandelings in die boorde - iets wat deesdae ’n skaarste is,”sê hy. Volgens Pienaar het die eerste Bigbucks wat die maatskappy na die Verre- en Midde-Ooste uitgevoer het daar aangekom en die aanvanklike terugvoer is oorweldigend gunstig.
Aanplantings brei uit
“Gala is in wese ’n onstabiele kultivar met tussen 5% en 50% van aangeplante bome wat nie tipies reageer nie. Bigbucks is die uitsondering, so kwekers weet dat wanneer hulle ’n Bigbucks-boom plant, hulle altyd Bigbucks-vrugte sal kry. Nog ’n verbetering, alhoewel ’n kosmetiese verbetering, is die diep, vol, wynrooikleur wat die vrug van vroeg af al het, al is die meeste Gala-appels gestreep. Alhoewel ’n rooi kleur gewoonlik ’n aanduiding van rypheid is, is Bigbucks van die begin af volrooi. Normaalweg moet ’n Gala-boom op drie verskillende tye gepluk word om vrugte met die regte kleurspesifikasie te vind, maar bome kan nou, indien nodig, een keer gepluk word.
“In 2016 het Tru-Cape- kwekers 95 000 bome op 50 hektaar aangeplant. Hierdie winter sal ons 171 000 bome plant op 90 hektaar. Teen volgende jaar sal ons na verwagting meer as ’n halfmiljoen bome op 300 hektaar aangeplant hê. Almal is op soek na ’n stabiele Gala,” gaan Nel voort. “Ons het tot dusver nie ’n enkele terugkeer gesien nie.”
Volgens mnr. Calla du Toit, Tru-Cape-kweker en verkrygingsbestuurder en voorsitter van die Bigbucks-kwekersvereniging, toon Bigbucks-bome wat by Ceres aangeplant is dieselfde potensiaal as dié wat by Grabouw geplant is, so hierdie kultivar is oorgehaal om die mees betekenisvolle vonds van die dekade te raak. “Dit verteenwoordig ’n 30%-verbetering oor die meeste ander.”
Nel sê Bigbucks sal op dieselfde wyse as ander Gala-tipes gepluk en geberg word. “Daar is ’n mite dat rooier vrugte minder smaak het, maar dis nie waar nie. Bigbucks lyk pragtig en smaak heerlik,” sluit hy af.