
Tru-Cape, die land se grootste bemarker van appels en pere, het pas sy “Nader aan die Mark”-strategie van stapel gestuur. Hiermee wil hy sy produsente se winste in die waardeketting verbeter, sê mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur.
Tru-Cape word besit deur Two-a-Day in Elgin en Ceres Fruit Growers, en het bedryfskoste reeds drasties verminder deur strategiese vennootskappe aan te gaan en beleggings van miljoene rande in infrastruktuur te maak.
Pienaar sê, gebaseer op reeds gevestigde vrugtebome, sal die groep 18 miljoen kartonne appels en pere binne die volgende vyf jaar kan lewer. “Daarom het Tru-Cape pas ’n perseel van 5 000m2 by City Deep in Johannesburg aangekoop met planne om dit uit brei met ’n verdere 4 000m2, wat onder meer ruimte vir 1 300 palette vrugte sal bied.” Dit sal ook dien as ’n mini verspreidingsentrum vir vrugte.
“Ons gaan direk vanaf Johannesburg uitvoere hanteer aan klante elders in Afrika,” sê hy. Die nuwe fasiliteit sal ook ’n tydelike kantoorruimte bied sodat klante uit ander Afrikalande daar bymekaar kan kom, ooreenkomste kan sluit en produkte afhaal. “Die nuwe fasiliteite sal vroeg in 2015 gereed wees vir sake.”
Hy sê Tru-Cape sal ook in die toekoms meer op markte in Afrika en die MiddeOoste fokus, wat uiteindelik tot groter bestendigheid in die waardeketting sal lei.
Namate Tru-Cape beheer neem van meer skakels in die waardeketting, “sal ons hierdie besparings direk aan ons produsentaandeelhouers oordra. Verbruikers sal ook baat daarby, want ons het direkte beheer oor ons produk – vanaf die grond waarin dit gekweek word tot by supermarkte en kruidenierswinkels”.
Roelf het ook die bevindings van die jongste verbruikersnavorsing wat namens Tru-Cape gedoen is, bekend gemaak. “Appels, piesangs, pere en druiwe is die vier vrugsoorte wat die hoogste aanvraag geniet, terwyl twee uit elke drie respondente wat
deelgeneem het, Tru-Cape se 1,5kg handelsmerksak bo los vrugte verkies. Vir 41% is naspeurbaarheid belangrik.
“Die meeste van die deelnemers aan die markondersoek koop nou meer as een keer per week vars vrugte– wat ’n beduidende styging toon sedert 2012. Sowat 70% het aangedui hulle koop hul vrugte by dieselfde plek waar hulle hul maandelikse inkopies doen.
Verbruikers is ook meer bewus van appel en peerkultivars as tevore. Golden Delicious en Granny Smith is steeds die gewildste appels, hoewel Granny Smith se gewildheid taan.