
Sowat ’n jaar nadat die noordelike deel van die Apiesrivier en die Rooiwal-rioolaanleg weens besoedeling tot rampgebied verklaar is, vorder die opruiming van die rivier en die herstel en opgradering van die rioolaanleg fluks. Die Tshwane-metro het onlangs ’n begroting voorgelê en ’n bedrag van R142 miljoen begroot om dié probleem op te los.
Luidens ’n verklaring verwelkom AfriForum dié begroting, hoewel mnr. André Potgieter, ondervoorsitter van die organisasie se Apiesriviertak, meen ’n lang pad lê nog voor vir die herstel van die rivier en die aanleg. “AfriForum het sowat ’n jaar terug die kwessie van rioolstorting by die Rooiwal-rioolwerke begin aanpak en alhoewel dit ’n tydsame projek is, word daar deurlopend resultate gesien.”
Bloedwurms
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter vir die TLU SA, het kort ná die rampverklaring aan Landbou.com gesê dat boere in die gebied baie skade gely het. “Talle boere kan glad nie met daardie water besproei nie. Soms, as ’n mens onderdeur sproeiers ry, is daar bloedwurms op jou voorruit. Van die boere sê selfs die likkewane wil nie meer in dié rivier gaan nie.”
Volgens me. Lynette du Plessis, woordvoerder vir die TLU SA, sê die boere in die omgewing die situasie het verbeter hoewel probleme van tyd tot tyd voorkom.
Skade
Meintjies sê boere is bekommerd oor die skade wat hulle ly, nie net weens die vuil water waarmee gewasse besproei word nie, maar ook die invloed wat die besoedelde water op die toestand van die grond het. Hy sê tans ervaar boere in die Bronkhorstspruit-gebied ook groot probleme met besoedelde water. “Ek was onlangs by ’n boer in die omgewing, en die grondkundige daar het vir hom gesê hy sal meer baat daarby vind om sy spilpunt te skuif as om sy grond te rehabiliteer. Dis swart water wat partykeer daar voorkom.”
Volgens Potgieter beoog die stadsraad om op lang termyn die Rooiwal-aanleg se grootte te verdubbel. Die situasie word deurlopend gemonitor.