
Byna 25% meer hoenderstukke aan die been is verlede jaar ingevoer. Die totaal in gewig was 239 589 ton, waarvan die meeste (194 399 ton) uit die Europese Unie (EU) gekom het.
Die vry-aan-boord-waarde van 2016 se ingevoerde stukke aan die been was R3,363 miljard, vergeleke met 2015 se R2,72 miljard. Volgens die jongste invoersyfers op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) was 64,5% van die stukke aan die been wat verlede jaar ingevoer is agterkwarte,15,3% was vlerkies, 13,3% was boudjies, 3,7% dye en 3,2% ander snitte.
Mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die SAPV, sê die hoeveelheid stukke aan die been wat verlede jaar ingevoer is, is meer as die totale produksie van die land se derde grootste produsent, Country Bird Holdings.
Die groei in invoer uit die EU was ondanks teenstortingstariewe wat sedert 2015 op stukke aan die been van sekere maatskappye in Duitsland, Nederland en Brittanje geld. Verlede jaar se invoersyfer sou waarskynlik nóg hoër gewees het as dit nie was vir Suid-Afrika se voëlgriepverbod op produkte uit verskeie EU-lande sedert Desember nie.
Ingevoerde stukke aan die been uit die EU het in Desember met 62,2% vergeleke met November gedaal en was 43,9% minder as in Desember 2015.
Prys onder druk
Die dramatiese styging in invoer verlede jaar het die prys in die bevrore mark afgedruk, sodat produsente nie die styging in voerkoste weens die droogte kon verhaal nie. Die jongste beskikbare produsentprysinligting strek tot Oktober - wetgewing oor mededinging verhinder dat jonger inligting al bekend gemaak kan word.
Hiervolgens was die gemiddelde produsenteprys vir kitsbevrore stukke (IQF) van Januarie tot Oktober R16,31/kg, wat 0,7% laer is as die gemiddelde IQF-produsenteprys in 2015. In 2015 het die prys met 11,2% gestyg en in 2014 met 10,8%. Pryse vir IQF was wel in Oktober alleen gemiddeld R16,89/kg, wat 7% hoër is as in September en 3,7% hoër as in Oktober 2015.
Lovell sê dié styging is weens die invloed van die pekelwaterregulasies wat in Oktober in werking getree het. Produksiekoste het volgens hom egter met 19% gestyg en produsente het reeds vóór die die nuwe regulasies verliese gely. Die bedryf moes verlede jaar begin werkers aflê en produksie terugsny. “Vir die bedryf om te bly bestaan, móét pryse styg,” sê Lovell.
Ander lande
Invoer van stukke aan die been uit Amerika, waarvan 65 000 ton per jaar sonder teenstortingstariewe ingevoer mag word, was nie so baie soos vooraf gevrees is nie. Sowat 5 400 ton se invoer is per maand verwag. Die meeste, naamlik 6 906 ton, is in Maart ingevoer, maar in byvoorbeeld Augustus is net 650 ton ingevoer.
In Desember het dit tot 4 846 ton gestyg, waarskynlik weens die voëlgriepverbod op Europese lande. Die totale hoeveelheid pluimveeprodukte wat verlede jaar ingevoer is, wat ook eend- en kalkoenvleis insluit maar hoofsaaklik hoendervleis was, is 560 155 ton.
Hiervan het 41,7% uit Brasilië gekom - hoofsaaklik meganies ontbeende vleis – en 19,7% uit Nederland. As die Europese lande se invoer saamgevoeg word, het dit 48,1% van invoer verteenwoordig. Die toename in invoer is een van die kwessies wat deur 'n regeringstaakspan bekyk word om die bedryf te red. Lovell sê die taakspan se werk vorder goed, maar “aksie is nou nodig”.