
“Op sekere plekke is die vlakke van die uitheemse indringerplante vandag hoër as tevore, wat die tafel dek vir ’n moontlike herhaling van die vuurramp,” waarsku mnr. Cobus Meiring van die Suid-Kaap-grondeienaarsinisiatief (SCLI)
Volgens Meiring het sekere grondeienaars nie opgetree toe hulle die geleentheid gehad het om hul grond skoon te maak van die indringerplante na die 2017-brande nie.
Hy sê die teenwoordigheid van die indringerplante oral in die Tuinroetelandskap het ’n beduidende rol gespeel in die onlangse veldbrande. Verskeie grondeienaars het groot bedrae bestee om indringerplante van hul eiendom te verwyder om sodoende hul grond te beveilig teen wegholbrande.
Hy benadruk dat grondeienaars in die Tuinroete ’n bykomende verantwoordelikheid van omgewingsbestuur het, veral wat indringerplante betref.
“Die bestuur van indringerplantegroei kan baie duur wees. Daarom is dit belangrik om deeglike te beplan om indringerplante uit te roei en hul hergroeipotensiaal te onderdruk.”
Hy sê grondeienaars moet dit voortdurend in ag neem, anders kan daar weer katastrofiese gevolge wees weens wegholbrande, wat binne ure mense se lewens kan verwoes.
Volgens Meiring is indringers terug op dieselfde vlakke as voor die brande rondom die Knysnameer en in die landelike gebied tussen Knysna en Plettenbergbaai.
“Waar daar ’n merkbare verbetering is, is dat daar meer brandbane is wat versorg word en baie eienaars maak nou seker dat die areas direk om hul eiendomme skoon is van dennebome en ander indringers.”
Sy raad aan grondeienaars wat wil begin om indringers van hul eiendom te verwyder, is om eers seker te maak dat die gebied om hul huis en hul brandbane skoon is.
“Grondeienaars moet in gedagte hou dat indringers aggressief teruggroei en dat hulle moet seker maak dat waar hulle die gebied skoon hou waar hulle indringers verwyder het.”
Meiring sê daar is nie werklik ’n verandering in die samestelling van die indringers in vergelyking met voor die brand nie, aangesien die plante weer teruggroei soos voor die brand weens die saadbank in die grond. Daar is egter ’n opmerklike toename in die stinkboon (Paraserianthes lophantha) en Meiring sê dit kan wees omdat die boomspesie nou die punt bereik het dat dit eksponensieel kan versprei.
Die vernaamte indringerspesies in die omgewing sluit onder meer dennebome, rooikrans, port jackson, wattels, sesbania, purperwinde (morning glory) en madeira-ranker in.