
Dit volg op die werkwinkels, veldbesoeke en vergaderings van werkgroepe wat van 23 Januarie tot 28 Januarie by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein aangebied is. Verskeie kundiges van oor die wêreld het onder meer die verrigtinge bygewoon.
“Afrika suid van die Sahara verbou al eeue lank turksvye, maar tot dusver is nog nie genoeg vordering gemaak nie en dit is ’n onderbenutte gewas,” sê prof. H. O. de Waal, sameroeper van die geleentheid. Die werkgroep se strategie-raamwerk is gemik op die navorsingsbehoeftes vir alle Afrika-lande, met uitsluiting van die Arabiese groep. Suid-Afrika sal ingevolge die strategie saam met die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap onder meer om befondsing vir navorsing aansoek doen.
“Dit is verstommend dat die veeldoelige turksvy nog nie tot sy reg gekom het nie,” sê De Waal. “Dié gewas sal nou met die medewerking van die afgevaardigdes van onder meer Mexiko, Chile, Argentinië, Italië, Jordanië en die Suider-Afrikaanse buurlande, die nodige erkenning as veeldoelige landbou-produk kry.”
In sy aanbieding het prof. Paolo Inglese van die Universiteit van Palermo, Italië, as koördineerder van die turksvy-netwerkgroep van die Verenigde Nasies se organisasie vir voedsel en die landbou (FAO) beter statistiek oor die verbouing van die gewas oor die wêreld heen, ingewin word.
Meer as R1 miljoen is vir die beplanningsessies in Bloemfontein beskikbaar gestel deur onder meer die FAO, die regering van Mexiko, die departement van wetenskap en wegnologie en die Vrystaatse Universiteit.