Twee boere van die Noord-Kaap is deur Landbouskrywers in die sentrale streek vereer vir die werk wat hulle in die bedryf doen.
Luidens ’n berig in Volksblad (3 Oktober 2011) is mnr. Johannes Fourie van Groblershoop as die Noord-KaapseBoer van die Jaar gekroon.
Mnr. Willem Block, Fourie se vennoot, is as die streek se Nuwelingboer van die Jaar aangewys. Mnr. Riaan Dames, ’n weiding-konsultant van die onderneming Best Farmer op Vryburg, is as die Noord-Kaap se Landboukundige van die Jaar vereer.
Werknemertrust
Fourie en sy seun, Willem-Kobus, het sowat 10 jaar gelede saam met Block as direkteur, die bemagtigingsprojek Sanddraai-Arbeidsgenot vir hul plaaswerkers begin.
Volgens mnr. Charles Smith, voorsitter van Landbouskrywers in die sentrale streek, besit die werknemerstrust 75% van die aandele in die Arbeidsgenot-boerdery, en die familietrust 25%.
’n Bedrag van sowat R200 000 word per jaar vir dividende en bonusse opsygesit en aan die 27 aandeelhouers uitbetaal. Sommige werkers verdien tot R3 000 per maand derhalwe is sommige van hulle se inkomste heelwat hoër as hul plaaswerkerloon.
Smith sê die Fouries is suksesvolle boere en hul bedrywighede bestaan uit wyn- en rosyntjiedruiwe, pekanneute, lusernverbouing, en ’n skaap- en beesboerdery.
Bron: Volksblad
3 Oktober 2011