
Andrew Ndlovu, die Zimbabwiër wat vroeër vandeesweek in die rondgaande hooggeregshof in Polokwane skuldig bevind is op aanklagte van moord en verkragting van die afgetrede onderwyseres me. Christine Robinson in haar plaaswoning naby Thabazimbi is vandag op albei klagte tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Ndlovu, wat homself aan die hof voorgedoen het as Andrea Imbayarwo, het voordat hy haar vermoor en verkrag het, as werker op die plaas van die 59-jarige Robinson, ’n Britse burger, gewerk.
Tydens sy verhoor het Ndlovu beweer dat hy in ’n verhouding met Robinson was. Hy het skuld op albei klagte ontken.
Ndlovu is ’n Zimbabwiese burger. Hy het ná die aanval op Robinson na Zimbabwe gevlug, maar hy het etlike male na Suid-Afrika teruggekeer onder verskeie vervalste identiteite.
Hy is op 30 Julie 2020 in Johannesburg in hegtenis geneem danksy goeie samewerking tussen die polisie en die private misdaadondersoeker oud-kol. Gawie Louwrens.