
Drie verdagtes word tans in Noordwes gesoek ná ’n boervrou van Hartebeesfontein Maandagoggend (13 Augustus 2012, op ’n plaas geskiet is. Die vrou was op pad dorp toe, toe die groep haar by die plaashek aangeval het.
Kapt. Tselane Nkala, polisiewoordvoerder, sê die vrou het omstreeks 09:00 by die plaashek naby die huis stilgehou om dit oop te maak.
“Die drie mans het haar daar voorgelê en het haar in die wang, arm en bors geskiet,” vertel Nkala. Die vrou se ouderdom is vermoedelik tussen 35 en 39 jaar oud.
Vlug
Die verdagtes het met die vrou se voertuig van die toneel gevlug. Nkala sê dié voertuig is intussen verlate in die omgewing gevind. Die groep is glo nou met ’n bruin bakkie aan die vlug.
Die vrou is met haar aankoms by ’n hospitaal dood verklaar.
Enigiemand wat ’n verdagte voertuig in die omgewing opmerk, word gevra om die naaste polisiekantoor te skakel.
Tweede voorval
Intussen is ’n bejaarde boer van Jansenville Sondagaand (12 Augustus 2012) vermoor en sy vrou ernstig beseer in ’n aanval. Luidens ’n berig op Nuus24.com is die 70-jarige mnr. Owen Charles deur vyf mans in sy huis op die plaas Armadale aangeval en met messe gesteek.
Hy is op die toneel dood. Sy vrou is ook met messe aangeval en word in ’n hospitaal in Port Elizabeth behandel.
Die verdagtes het met Charles se bakkie en wapens op die vlug geslaan.
Bron: Nuus24.com