Twee renosters is onlangs in Limpopo vir hul horings doodgemaak, terwyl die Endangered Wildlife Trust (EWT) ’n boek vir die beskerming van dié diere gaan bekend stel.
Luidens ’n berig in Beeld (13 September 2011) is die karkasse van die twee renosters die afgelope naweek in die munisipale wildtuin van Polokwane gevind.
Die eerste karkas is deur fietsryers in die wildtuin gesien, terwyl die tweede gevind is deur veeartse wat met ’n helikopter oor die wildtuin gevlieg het. Luidens die berig was dié die eerste stropingsvoorval in die wildtuin.
Mnr. Simon Mokoatedi, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê veiligheid by die wildtuin sal opgeskerp word.
‘n Gids
Intussen beoog die EWT om volgende week ’n gids oor die beskerming van die diere bekend te stel. Die trust sê dié boek fokus spesifiek op private renostereienaars en hoe hulle hul renosters kan beskerm.
Die gids fokus onder meer op huidige wetgewing vir die bewaring van renosters, voorvereistes vir permitte, asook die kontakbesonderhede van verskeie instansies in die land wat renostereienaars kan bystaan met raad en hulp ten opsigte van die bestuur van die diere asook die beskerming.
Die boek word op 21 September vanjaar in Johannesburg bekend gestel.
Bron: Beeld
13 September 2011