
Twee oud-voorsitters van Agri SA uit die dae toe dié organisasie nog as die SA Landbou-unie (SALU) bekend was, mnre. Kobus Jooste en Nico Kotzé, is twee dae uitmekaar uit oorlede.
Mnr. Nico Kotzé, voorsitter van 1989 tot 1991, is op Donderdag 14 Augustus oorlede en mnr. Kobus Jooste, voorsitter van 1984 tot 1989, is Saterdag 16 Augustus oorlede. Beide is Woensdag, 20 Augustus, in onderskeidelik Pretoria en op Koppies in die Vrystaat begrawe.
Kotzé, wat in daardie stadium by Crecy op die Springbokvlakte geboer het, is in Oktober 1989 tot voorsitter verkies toe Jooste uitgetree het. Mnr. Boet Fourie van KwaZulu-Natal is terselftertyd verkies tot ondervoorsitter in die plek van Kotzé. Jooste het in die Noord-Kaap in die omgewing van Upington geboer.
Jooste en Kotzé het te doen gehad met die aanloop tot die skeuring tussen Agri SA en die TLU SA in die vroeë negentigs. Reeds in 1988 by SALU se kongres in Kimberley het Jooste gewaarsku dat eenheid in die landbou deur party-politieke bedrywighede bedreig word. Hy het gesê die gevaar dat die unie op party-politieke gebied verdeel gaan word, was groter as ooit.
Drie jaar later het Kotzé, as voorsitter, die TLU gerepudieer oor sy neiging om toenemend buite sy grense op te tree en oor nasionale landbousake uitsprake te lewer.
Jooste het ook al in 1889 boere gewaarsku dat hulle betrokke moet wees by gesprekke oor grond en hulle saak oor grondkwessies stel.
* In ’n boodskap van medelye van Agri SA het mnr. Johannes Möller, voorsitter, gesê daar is met leedwese kennis geneem van hulle afsterwe. “Ons eer hul nagedagtenis en dra ons medelye oor aan hul eggenotes, kinders en familie.”