
Ryan McDermind (34) en Domonique Peres (35) is in die Durbanse streekshof vir die onwettige handel en kweek van dagga skuldig bevind.
Kapt. Simphiwe Mhlongo, polisiewoordvoerder, sê die Port Shepstone-eenheid vir die ondersoek van ernstige misdade het in Januarie 2018 met die samewerking van ander wetstoepassingsagentskappe verskeie van die beskuldigdes se persele langs die Suidkuis ondersoek. Daar is beslag gelê op meer as 2 000 daggaplante.
Volgens hom is die persele as binnenshuise kweekhuise ingerig. Toerusting wat gebruik word om die plante te kweek en te droog is ook gekonfiskeer en die laboratoriums op die persele is afgebreek. Verskeie ander verdagtes is ook op die persele in hegtenis geneem.
McDermind en Peres was tot hul vonnisoplegging op borgtog vrygelaat. McDermind is skuldig bevind aan die kweek van dagga en gevonnis tot ’n boete van R50 000 of drie jaar tronkstraf. Hy is ’n verdere opgeskorte vonnis van vyf jaar tronkstraf opgelê. Peres is gevonnis tot ’n boete van R20 000 of twee jaar tronkstraf vir die handel in dagga.