
’n Gesamentlike operasie deur verskeie polisie-eenhede van Oos-Londen het gelei tot die inhegtenisneming van ’n 35-jarige en ’n 65-jarige verdagte in verband met ’n onwettige daggaplaas, asook die handel van dwelms.
Nadat die polisie ingelig is dat dié plaas as ’n daggaplantasie bedryf word, is ’n aantal aankope daar gemaak en is die plaas gemonitor, sê kapt. Yolisa Mgolodela, polisiewoordvoerder.
Op Maandag 7 Februarie is ’n span na die plaas ontplooi waar hulle die 35-jarige verdagte ontmoet het. Hy het gesê hy doen konsultasiewerk vir die daggaplaas se eienaar wat nie in daardie stadium daar was nie. Die doel van die plaas was duidelik om dagga te kweek, te droog en te verkoop. Daar is beslag gelê op plante en gedroogde dagga ter waarde van R600 000. ’n Struktuur en toerusting ter waarde van R4 miljoen wat vir die verwerking van die plante gebruik word, is ook gevind.
Die ondersoek het die span na Aliwal-Noord geneem waar die 65-jarige eienaar van die plaas in hegtenis geneem is op aanklagte van die handel van dagga.
Volgens Mgolodela word verdere inhegtenisnemings verwag namate die ondersoek vorder. Die verdagtes verskyn binnekort in die Lady Grey- en Aliwal-Noord-landdroshof.