
Robert Booth (53), ’n voormalige amptenaar van die departement van binnelandse sake, en Berry Victor Welgemoed (35) is gister in die hof vir handelsmisdade in Nelspruit gevonnis nadat hulle op 16 Maart vanjaar in hegtenis geneem is. Die hof het ook beslis dat hulle nie vuurwapens mag dra nie.
Kapt. Dineo Sekgotodi, polisiewoordvoerder, sê ’n ondersoek deur die Valke het bevind dat Booth en Weigemoed, een in ’n uniform van die departement binnelandse sake geklee, op 14 Maart op die plaas Kingston Valley naby Karino opgedaag het.
Die plaas se buitelandse voorman, mnr. Joseph Njawal, is gevra of hy en 11 ander buitelande plaaswerkers werkspermitte of ander relevante permitte het wat hulle toelaat om in die land te bly en werk. Njawal het geantwoord dat hulle paspoorte en permitte as asielsoekers het.
Booth en Weigemoed het aan Njawal en die plaaswerkers gesê hulle gaan in hegtenis geneem word as hulle nie die regte permitte het nie. Hulle het onderneem om dié permitte teen R500 elk vir die werkers te bekom.
Een van die werkers het ’n klag by die polisie gelê. Toe Booth en Welgemoed op 16 Maart weer op die plaas opdaag om die permitte te oorhandig, is hulle in hegtenis geneem nadat R5 500 aan hulle oorhandig is.