
In 'n kommerwekkende wending vir die pluimveebedryf het 'n tweede geval van voëlgriep naby Standerton in Mpumalanga uitgebreek.
Landbou.com het verlede week berig dat 28 000 hoenders van kant gemaak moes word op 'n plaas by Villiers ná die H5N8-stam van die siekte by die diere ontdek is. Die geval is aan die Mpumalanga-kant van Villiers ontdek en word deur die provinsie se amptenare ondersoek.
Dié voëlgriep-stam, wat op albei plase teenwoordig is, is nie gevaarlik vir mense nie maar die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het die publiek egter steeds gewaarsku om nie die vleis van besmette hoenders te eet nie en beskermende klere te dra wanneer daar met die diere gewerk word om die verdere verspreiding van die siekte te vermy.
Die plase is tans albei onder kwarantyn, met ten minste nóg 25 000 hoenders wat by Standerton geslag sal word. Eiers mag ook nie van die plase af verwyder word nie.
Aparte gevalle
Volgens Bomikazi Molapo, woordvoerder van die departement, is die uitbrake nie verwant aan mekaar nie en dus is hoenders op twee aparte geleenthede met die virus besmet.
'n Kontrolesone van 30km is in beide provinsies ingerig en die department doen tans inspeksies binne die sones vir enige plase wat moontlik ook deur die siekte geraak word.
Enige pluimvee of pluimveeprodukte wat van die plase af verwyder word, is onderhewig aan 'n permit van die staatsveearts.
Die departement versoek boere om enige gevalle van groot hoeveelhede voëls wat vrek by die naaste staatsveearts aan te meld, sodat amptenare die voorvalle kan ondersoek en monsters vir toetse kan neem.
Die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) het riglyne neergelê oor die voorkoming en beperking van voëlgriep. Lees die riglyne hier.
• Laat nuus: Namibië en Zimbabwe het Dinsdagmiddag invoere van hoenders uit die RSA verbied.