
Omdat dit so lank neem vir wetgewing om deur al die prosesse te gaan, kan boere hulle daaraan troos dat politieke uitsprake nie noodwendig gou in die praktyk toepassing sal vind nie, het me. Anette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, op Agri Oos-Kaap se jaarkongres gesê.
“Hoewel daar baie sake is wat nie reg in die land is nie, is daar ook die goeie. Boere behoort dus nie té bekommerd te raak as opportunistiese politici sê daar gaan op hul grond geplak word.
"Om aan die Grondwet te peuter gaan nie ’n maklike proses wees nie. Buitendien het die regbank by meer as een geleentheid met sy uitsprake getoon hoe hoog hulle die land se Grondwet aanslaan en gaan beskerm.”
Sy het gesê dit is betekenisvol hoe gewone landsburgers hulle stem op sosiale media laat hoor. “Die rol wat die media speel om om ongerymdhede vreesloos te ondersoek is ’n goeie teken van ’n volwasse demokrasie en een wat hoop vir die toekoms bied.”