
Die tyd het uitgeloop om met voorstelle vir werkbare grondhervorming te kom. Planne wat ekonomies sinvol is en verseker dat grondwaardes nie daal nie, is dringend nodig, sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA.
Hy het by die jaarvergadering van Agri Delmas gesê die druk gaan bly as boere nie iets doen nie. Minister Gugile Nkwinti is in ’n hoek gedruk om met ’n plan te kom. “Dit help nie ons gaan in die media te kere nie. Ons moet ons energie bestee aan planne wat kan werk.”
Hy sê die eenheidsforum vir die landbousektor, Asuf, wil teen Februarie alternatiewe op die tafel hê. Al die georganiseerde landbou-organisasies neem deel en Graan SA verskaf die sekretariaat.
Hy het ’n stel beginsels genoem wat vir Graan SA belangrik is. Dit sluit in dat die Grondwet die basis moet vorm, grondwaardes behoue bly, vergoeding teen markwaarde, vrywillige deelname, vrystelling van verdere swart ekonomiese bemagtiging en restutusie moet deel vorm van die 20%-plan in die Nasionale Ontwikkelingsplan waarvolgens 20% grond in elke distrik vir herverdeling identifiseer moet word.
Mnr. Kallie Schoeman, besturende direkteur van Schoeman-boerdery, het gesê die uitdaging is om met nuwe planne vorendag te kom wat werkbaar vir die verskillende bedrywe is. “Ons gaan nie daarvan wegkom om iets prys te gee nie, maar ons moet probeer kyk hoe ons die grondkwessie in geleenthede kan omskep.”
Hy sê dit gaan nie help om kwaad te raak en almal te blameer nie, Daar gaan al hoe meer populisitese uitsprake kom. Dit is tyd vir dialoog en planne. Daarom moet die geroganiseerde landbou se strukture ondersteun word.
Hy beklemtoon ook dat 35 000 boere nie die hele land se skuld van die verlede kan dra nie. Maniere moet gevind word om almal te betrek.