'n Tydige aanpassing aan die beskermingsvlak van die koringinvoertarief deur die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) sou die verbruiker en Suid-Afrika se ekonomie R1,5 miljard gespaar het.
Mnr. Nico Hawkins, hoof van bedryfsbediening by Graan SA, sê hy het dié feit aan ITAC bekend gemaak tydens 'n vroeëre hoofbestuursbesoek aan ITAC.
Graan SA het in Maart verlede jaar aansoek gedoen om 'n hoër beskermingsvlak vir die koringinvoertarief.
Die beskermingvlak van die koringvoertarief was $157 per ton, terwyl Graan SA gevra het dat dit tot $260 verhoog moes word. Die aansoek is aanvaar, maar dit is eers in Mei aangekondig.
Hawkins sê: “As 'n redelike tarief vinniger aangekondig is, kon tot 200 000 ha meer koring in die afgelope seisoen aangeplant word. Dan kon die invoer 500 000 ton minder gewees het.”
Tydens 'n bespreking by Graan SA se jaarlikse kongres het Hawkins aangedui na verwagting sal 1,7 miljoen ton koring ingevoer moet word. Dié invoer kan R3 500/ton tot R3 600/ton kos.
Kommer in die bedryf
Van die lede het tydens die sessie opgemerk dat hulle bekommerd is oor gerugte dat die prys van ureum in die komende maande met tot 40% kan styg. Hawkins sê hy kan nie bevestig of dit wel die geval sal wees nie.
“Ek weet nie hoeveel dit gaan styg nie, maar dit gaan styg en boere moet maar mooi beplan.” Mnr. Andries Theron, voorsitter van die wintergrane-spesialiswerkgroep, het opgemerk dat hy bekommerd is oor 'n moontlike tekort aan saad.
Die beskikbaarheid van sommige kultivars is glo beperk. Hawkins het boere gemaan om seker maak dit is suiwer en gesertifiseer as hulle dit oorweeg om ander kultivars te koop.
Theron het wel opgemerk dat so 'n situasie totaal onaanvaarbaar is: “Ek is regtig bekommerd hieroor. Ons moet dié ding aanpak. Saad moet beskikbaar wees.”
10 Maart 2011