
“Teen 2020 gaan die grootste vuisgeveg in die wêreldwye vleismark tussen die vis- en pluimveebedryf wees.” Dit is die mening van prof. David Hughes, emeritus-professor in voedselbemarking by die Imperial Kollege in Brittanje. Hy meen die rooivleismark gaan teen daardie tyd meer oorlewingsdruk ervaar.
Hughes het op die AMT-voorsuitskouingskonferensie in Pretoria gesê dié neiging gaan die meeste deur vleisverbruikspatrone in China aangedryf word. Internasionale vleisverbruik het tussen 2007 en 2012 met 16 miljoen ton toegeneem, en 10 miljoen daarvan is deur China verbruik.
Kleinhandel druk
Hy sê die druk wat die kleinhandel tans op betrokkenes in die waardeketting vir verskaffing plaas vir meer en goedkoper produkte, sal in die toekoms toeneem. Dit is ook duidelik dat ’n groot deel van verbruikers meer omgewingsbewus raak, en boere moet dus dié neiging in produksiemetodes in ag neem.
“Die groentrein het uit die stasie vertrek, en jy moet sorg dat jy op hom is,” sê Hughes. Nóg ’n neiging wat in gedagte gehou moet word, is dat ’n geraamde 12% van die wêreld se verbruikers teen 2020 kruideniersware en kos aanlyn sal koop.
Op die vraag of die landboubedryf tans ’n goue era beleef, sê Hughes hy sien die bedryf “as ’n sonsopkoms-bedryf, nie ’n sonsondergang-bedryf nie. Betrokkenes moet wel besef dat hulle die uitdagings moet aandurf pleks van dat die uitdagings hulle afskrik.”