
Die R254 miljard-skuldverligting wat van Eskom se balansstaat oorgeskuif gaan word na die regering s’n, sal onder streng voorwaardes geskied.
Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het dié aankondiging Woensdag tydens die 2023-begroting gemaak. Die reddingsboei moet Eskom in staat stel om sy skud- en renteverpligtinge oor die volgende drie jaar af te betaal en sal sowel rente as kapitaal insluit.
Die regering hoop die skuif van Eskom se skuld na sý balansstaat sal die benarde finansiële posisie van die kragreus verlig, meer instandhouding moontlik maak en die oorgang na hernubare-energiebronne steun.
Dit behoort ook die kapasiteit te ontsluit vir nodige onderhoudswerk by sy kragstasies. Watter steenkoolkragstasies uiteindelik die kans gegun sal word om te oorleef, sal afhang van ’n internasionale paneel se bevindinge en aanbevelings oor die stand van al dié kragstasies in Suid-Afrika.
Praktiese voorgestelde planne
“Ekonomiese groei het die afgelope dekade weens strukturele ekonomiese beperkinge, afgeneem,” het Godongwana Woensdag gesê.
“Dit sluit die aanhoudende onbeplande kragonderbrekings in wat sedert verlede jaar toegeneem en die beskikbaarheid van energie aan die hele ekonomie verlaag het. In die afgelope jaar is gevestigde energieregulasies verslap, wat munisipaliteite en besighede die vryheid gee om krag op te wek en alternatiewe oplossings in werking te stel.”
Om groter ekonomiese groei te ontsluit, beoog die regering om beduidende ekonomiese hervormings, hoofsaaklik in die energiesektor, in te stel.
Hervormings gemik op die stabilisering van kragvoorsiening is versterk deur ingrypings deur die Nasionale Energiekrisiskomitee (Necom).
Die komitee beoog om oor die kort termyn die intensiteit van kragonderbrekings te verlaag deur kernuitdagings by kragstasies aan te pak, die las van kragopwekking te verminder, en om die regulatoriese en goedkeuringsproses vir nuwe energieprojekte te sentraliseer.
Hervorming van die elektrisiteitsektor sal Eskom se volhoubaarheid verseker en mededinging in die mark aanmoedig om meer kapasiteit tot die netwerk by te voeg.
Eskom het reeds ooreenkomste met die privaat sektor aangegaan om ekstra krag van 2 000 megawatt op te wek.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.