
Slegs in omstandighede buite die beheer van die eienaar, moet plaaswerkers en -bewoners aan uitsettings onderwerp word.
Hierdie is die oplossing wat die EFF aangebied het as poging om vreedsame bestaan op ’n permanente grondslag tussen die plaaswerker en sy -werkgewer te vestig.
Die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming is besig om wysigings aan die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) te bespreek wat moet sien dat die verblyfreg van plaasbewoners beter beskerm word.
Soek werkbare oplossing
Mnr. Sam Matiase, EFF-LP, het aangevoer dat die komitee ’n werkbare oplossing moet soek wat die vreedsame bestaan van die plaaswerker en -werknemer sal verseker. Hy stel voor dat ’n force majeure-klousule in die wetgewing ingeskryf moet word om hierdie samesyn te verseker deurdat uitsettings slegs in die geval van só ’n gebeurtenis plaasvind.
’n Force majeure sal byvoorbeeld verklaar kan word wanneer die boer nie sy kontrakte kan eerbiedig weens omstandighede buite sy beheer nie. Hierdie soort omstandighede sluit in oorloë, uiterste weersomstandighede en arbeidstakings.
Hierdie voorgestelde oplossing van Matiase is aangebied nadat die komitee uitgewys het hoewel die bestaande Esta-wetgewing die prosedure vir uitsettings bevat, daar nie ten volle daarop ag geslaan word nie.
Twee maande kennis
Bestaande wetgewing maak voorsiening dat wanneer ’n eienaar besluit om plaasbewoners van sy grond te sit, hy twee maande voor die tyd geskrewe kennis aan die bewoner, die munisipaliteit en die provinsiale departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming moet gee van sy voorneme om vir ’n uitsettingsbevel aansoek te doen.
Me. Phumzile Ngwenya-Mabila, voorsitter van die portefeuljekomitee, het aangedui die vraag ontstaan waarom die relevante belanghebbendes nie ingelig word hoewel dit duidelik in die wetgewing aangedui word.
Die Regshulpsentrum (LRC) het voorgestel dat die wetgewing so verander word dat slegs ’n hof ’n uitsettingsaansoek kan oorweeg wanneer hy ’n ondersoekverslag ontvang het en dat só ’n verslag verpligtend moet wees.
Albei kante van die saak
Dit sal nie net verseker dat albei kante van die saak gehoor word nie, maar ook verseker dat alle belanghebbendes bewus van die aansoek om uitsetting gemaak word. Hieruit het die vraag ontstaan of die departement wel oor die vermoë het om so ’n taak te verrig en of dit nie ’n aansoek om uitsetting uitermatig sal vertraag nie.
Hierop het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gesê dat ’n senior amptenaar toe sal sien dat die ondersoeke gedoen en die verslae saamgestel word.