Die 12de September is D-dag vir die haatspraakverhoor oor “Skiet die boer” teen Julius Malema, sê AfriForum.
Afriforum is deur regter Colin Lamont in kennis gestel dat hy Maandag (12 September 2011) uitspraak sal lewer in die saak.
Dié uitspraak volg na ‘n verhoor wat in April en Mei dié jaar plaasgevind het en wye mediadekking geniet het. Die verhoor het glo miljoene rande in regskostes beloop.
Vervolging?
Mnr. Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, sê die uitspraak “kan enige kant toe gaan, maar as jy akademies daarna kyk is dit duidelik in watter rigting dit moet wees.”
Hy sê sou die regter in hulle guns bevind, kan hy ‘n verklarende bevel gee wat as ‘n interdik kan dien ten opsigte van die sing van die omstrede lied.
“Indien Malema dan dié bevel sou verontagsaam, kan hy krimineel vervolg word op aanklagte van minagting van die hof,” verduidelik Spies.
Spies sê sowat 18 maande het verloop sedert hulle in Maart 2010 die saak aanhangig gemaak het. Die klag het gevolg nadat Malema dié lied glo tydens verskeie saamtrekke het.
5 September 2011