
Ná jare se wag en die verlies van hul eiendom wag 78 boere van Zimbabwe op ’n beslissing van die Appèlhof in Bloemfontein oor eiendom van dié regering waarop beslag gelê is.
Die hof het Maandag (27 Augustus 2012) uitspraak voorbehou ná die Zimbabwiese regering appèl aangeteken het teen ’n beslissing van die Noord-Gautengse Hooggeregshof.
Die Hooggeregshof het vroeër beslis dat grond van dié regering waarop in 2010 beslag gelê is, opgeveil mag word. AfriForum en die boere het op die grond beslag gelê omdat die Zimbabwiese regering nie ’n kostebevel van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Tribunaal gehuldig het nie.
Mnr. Mike Campbell, ’n voormalige boer van Zimbabwe, het volgens ’n verklaring in 2008 in Windhoek geslaag met regstappe oor grondgrype teen die Zimbabwiese regering by die tribunaal.
Onwettig
Die tribunaal het beslis dat Zimbabwe se grondhervormingsproses onwettig en rassisties is, en dat Campbell en 77 ander boere met rus gelaat moet word. Dié beslissing is in Februarie 2010 met behulp van AfriForum in ’n hof in Suid-Afrika bekragtig en daar is op die eiendom in Kenilworth, Kaapstad, beslag gelê.
“Indien Zimbabwe se appèl van die hand gewys word, sal daar vir die eerste maal in die internasionale regsgeskiedenis, voortgegaan word met die geregtelike verkoping van ’n eiendom van ’n staat wat hom aan growwe menseregtevergrype skuldig maak,” lui die verklaring.
Campbell is in April verlede jaar oorlede ná hy, sy vrou en sy skoonseun vroeër wreed deur oorlogsveterane op sy plaas aangerand is en geïntimideer is om die regsaak by die tribunaal te staak.